Rata Social Services NPC

23 Mei 2024

VAN: Kommissie van die Algemene Diakensvergadering

AAN: Gemeentes
Kerkrade
Predikante

OMSENDSKRYWE NR 19/2024

Broers en susters

Kindermishandeling is ’n realiteit in elke gemeenskap van ons land. Dit kom voor binne elke gemeente se grense. En dit gaan dikwels ongehinderd voort, onder die radar van dié wat iets daaraan kan doen.

Studies toon aan dat een uit elke drie kinders in Suid-Afrika op ’n manier mishandel word voor die ouderdom van 18 jaar. Fisieke mishandeling is ontstellend algemeen, terwyl emosionele mishandeling kinders net so baie aftakel en lewens verwoes. Voeg daarby verwaarlosing en seksuele mishandeling, en die prentjie vir baie kinders is donker.

Ons, as Hervormde Kerk, doen egter iets daaraan. Deur die ondersteuning van en samewerking met Rata Maatskaplike Dienste, help ons op enige gegewe stadium tussen 400 en 600 kinders in hangende kinderhofsake. Ons ondersoek jaarliks ongeveer 400 gevalle van kindermishandeling, en ons bereik ongeveer 1 000 kinders met voorkomende kinderbeskermingsdienste. Terselfdertyd ontvang Rata gemiddeld sewe nuwe aanmeldings per dag.

Betrokkenheid deur die Kerk maak ’n groot verskil – daarsonder sou talle kinders geen beskerming gehad het nie. Daarvoor is ons dankbaar, en wil ons u oproep om betrokke te bly. Veral in ’n tyd soos hierdie, waar politieke magspel ’n verwoestende uitwerking op die nie-regering-sektor het, is die Hervormde Kerk se ondersteuning van onskatbare waarde.

Kinderbeskermingsweek vind nasionaal plaas van 29 Mei tot 5 Junie. In hierdie tyd gaan Rata onder andere die volgende sake aanspreek deur projekte by skole en gemeenskappe:

* Mishandeling.
* Verhoudingsgeweld (huishoudelike geweld en geslagsgeweld).
* Self-besering.
* Dwelmverslawing.
* Sosiale media en kuber afknouery (boelie).
* Depressie.

Hiermee vra ons dus gemeentes om die spesiale deurkollekte op 2 Junie te ondersteun. Al die bogenoemde werk word moontlik gemaak deur die Kerk se ondersteuning, so as 2 Junie nie vir u gemeente werk nie, gebruik gerus enige ander datum of wyse van ondersteuning.

Bydraes kan by die volgende rekening inbetaal word:

Rekeningnaam: Raad van Finansies
Rekeningnommer: 020000287
Bank: ABSA
Takkode: 632005
Verwysing: 16HOOP + gemeentenaam

Indien daar individue of besighede is wat donasies wil gee, kan belastingvrystelling
ingevolge Artikel 18A verleen word. Kontak ons by gerhard@nhk.co.za vir meer inligting.

Daar sal verdere kommunikasie met promosiemateriaal vir hierdie deurkollekte aan gemeentes gestuur word.

Baie dankie vir elke gemeente se gunstige oorweging om hierdie groot saak te ondersteun.

Saam in diens

Ds Gerhard Stoltz
Sekretaris: Kommissie van die Algemene Diakensvergadering
012 322 8885 uitbr 3111