Goeiedag.

Die Munga Monster is inderdaad ‘n monster van ‘n fietsren. ‘n Monster van 1130km wat intens is. Alphonso moes ongelukkig weens gesondheidsredes na 332 km onttrek aan die Munga Monster.

  • Goeie naand almal. Ek het slegte nuus. Ek moes een van die moeilikste besluite in my lewe neem. Ek kan nie verder ry nie. My linkerknie wil nie meer nie. Ek het ontsettend pyn. Ek ry dan loop ek en in die hitte is ek besig om the dehidreer omdat dit my so lank neem om by die volgende waterpunt te kom. (Sien foto reeks waar hy geval het en moontlik sy knie beseer het)

 

Alphonso ons salueer jou durf. Dankie dat ons saam met jou die Munga Monster kon aandurf. Dankie dat jy saam met Rata die monster van kinderverwaarlosing aanpak. Saam sal ons hierdie monster veg. Alphonso jou gesondheid is prioriteit. Kyk asb mooi na jouself.

Dankie aan almal wat deel is van die stryd teen die monster van kinderverwaarlosing.

Kom ons veg hierdie monster wat so baie kinders se lewens verwoes deur die werk van Rata te ondersteun.

Seën en vrede vir almal toegebid.

Rata groete

1 Desember 2023

We dare you!

Sien jy kans vir ’n groot uitdaging? Voordat die kans vir altyd verlore is?

Het jy al van The Munga gehoor? The Munga is ’n monster – een van die heel moeilikste ultramaratons vir bergfietse in die wêreld! Die deelnemers moet ongeveer 1 130 km tussen Bloemfontein en Wellington binne 5 dae aflê. Daar is 5 wedrendorpe en 10 waterpunte langs die roete waar die ryers voorrade kan aanvul, maar weens die geweldige afstand en uitmergelende Karoolandskap is al die ryers tot ’n hoë mate op hulself aangewese. Die wedren stel ontsaglike fisiese en geestelike eise aan die ryer en net die taaiste ryers voltooi die wedren.

Dis amper soos die monsters wat maatskaplike dienste in ons land elke dag te bowe moet kom. Rata Maatskaplike Dienste MSW bestaan al 75 jaar lank, maar met die verswakking van die ekonomiese toestand in die land en die bedreiging van krimpende staatsubsidies, word hul monsters al hoe groter. Rata fokus op die beskerming van verwaarloosde, mishandelde en seksueel gemolesteerde kinders – kinders wat elke dag met hul eie monsters worstel. Oor die afgelope jaar alleen het Rata se 40 maatskaplike werkers meer as 40 000 individue bereik, aan amper 20 000 mense materiële hulp voorsien, en aan omtrent 1 500 kinders pleegsorgdienste gelewer. Terwyl dit ongeveer R10 000 per kind kos vir die proses van beveiliging, ondersoek, assessering, terapie, en hofverslae om ’n kind uit monsteromstandighede te haal en in pleegsorg te plaas.

Alphonso Theron het besluit om hierdie twee monsters aan te durf. Hy is 61 jaar oud en ry al 22 jaar lank fiets. Hy het die Cape Town Cycle Tour (vroeër die Cape Argus-wedren) al 18 keer gery, die 947 Ride Joburg 10 keer, en ook verskeie ander padfietswedrenne. Maar nou het hy besluit om die grootste monster van ’n uitdaging aan te durf: The Munga! Hy wil die Munga voltooi – vir Rata en die kinders wat so dapper teen hul monsters stry!

Sien jy kans om The Munga te ry? Sien jy kans om duisende kinders se veiligheid te verseker? Of sien jy kans om Alphonso en Rata te help om dit namens jou te doen?

Om die monster van Rata se tekort aan inkomste te tem, wil Alphonso R1 000 000 insamel – 1 000 persone of instansies wat elk R1 000 skenk.

Dís Alphonso en Rata se monsteruitdaging aan jou: Wees één uit ’n duisend!

1 000 x R1 000 = R1 000 000

Delf diep in jou sakke, dra by tot iets groots – voor die geleentheid vir altyd verby is!

Doen dit nóú!

Maak gebruik van die belasting voordeel en versoek ‘n 18A belasting sertifikaat
Rata Maatskaplikedienste is geregistreer in terme van klousule 18A(1)(a) van die Inkomste belasting wet.

EFT Bank Besonderhede 
Rata Social Services NPC
Absa tjek rekening nr:  0206 00209
Takkode:  632005
Verwysing:  Munga + Name

Volg Alphonso op Instagram