[vc_row][vc_column][vc_column_text]

As maatskaplike werker wat al vir meer as 20 jaar kinders se leed beleef, wonder ek altyd hoe ek
die leefwêreld van kinderbeskerming met ander kan deel. Om net te vertel wat ons doen, skep
nie ’n werklike prentjie van die seerkry en die “agterkant van die gordyn” nie. Toe ek genader is
om hierdie artikel te skryf, moes ek dink wat ek wou sê, wat ek wou tuisbring by mense en wat
dit is wat ek wil hê mense moet weet. Daarom vertel ek eerder twee stories van Rata: die storie
van Jason* en die storie van Kobus* en Tiaan*.

’n Vrydagmiddag laat bel ’n moeder ons Rata-kantoor en sê dat haar seuntjie (ongeveer 6 jaar oud) vir
haar te veel probleme gee en dat sy nie meer met hom kan cope nie. Sy het gehuil en voor die einde
van die dag vir Jason in haar motor gelaai en na Rata se kantoor geneem. Sy het voor hom in ons
ontvangslokaal gekniel, sy tas langs hom neergesit, hom gedruk terwyl sy huil, en gesê dat sy lief is vir
hom. Daarna het sy omgedraai, in haar motor geklim en weggery… Wat sê ’n mens vir ’n verwese ou
seuntjie wat sy ma se motor agterna staar en tot dusver nog geen woord gerep het nie? Selfs “geharde”
maatskaplike werkers het nie altyd trooswoorde nie. Al wat ’n kollega van my kon doen terwyl twee
ander van ons met knoppe in ons kele toekyk, was om te kniel, haar arms vir hom oop te gooi en hom
teen haar vas te hou terwyl hy snik… Saam het ons aldrie daardie dag met Jason gehuil – en dit was
ook nie die laaste keer nie…

Die storie van Kobus* en sy boetie Tiaan* stoot ook in my op: Ek kry een vroegmiddag ’n versoek van die
nooddienste dat ek die ouer boetie (Kobus) moet kom beveilig. Sy jonger boetie (Tiaan) is met ’n skêr in
die nek gesteek deur ’n dronk, aggressiewe vader en hulle is met hom op pad hospitaal toe. Kobus was
vreesbevange om daar te bly, nadat sy pa gearresteer is. Sy moeder het ernstige psigiatriese probleme
gehad en het gedreig om hom saam met haarself om die lewe te bring. Terwyl ek saam met Kobus op
sy bed in sy kamer gesit het, het hy my hand met albei syne vasgegryp, en sy ma het my ander hand
vasgedruk – my fokus was om haar so kalm moontlik te hou. Die SAPD was daar om te help as ek dit
sou verlang. So het ongeveer ’n uur verbygegaan, waarna Kobus gesê het dat hy nou saam met my
wil gaan. Die vrees in sy oë sal ek nooit vergeet nie. Toe sy ma dit hoor, het sy beheer verloor en my
om my keel gegryp weens woede, en die twee SAPD-beamptes moes haar van my af verwyder. Sy is
al skoppende en skreeuende saam met haar man in ’n vangwa gelaai. Op pad na ’n plek van veiligheid
het Kobus agter op die motor se sitplek gelê – woordeloos, met trane wat stil oor sy wange geloop het.
Tot vandag weet ek nie of dit hartseer, verligting of ’n kombinasie daarvan was nie…

Ek wens hierdie was verhale, stories wat ek opgemaak het. Maar dit is nie – dit is elke dag se
realiteite waarmee maatskaplike werkers worstel. Dit is meer algemeen as wat mense bereid is om te
erken. Kinders word seergemaak, mishandel, verwaarloos, sleggesê, en verlaat deur die mense wat
veronderstel is om vir hulle die liefste te wees en vir hulle om te gee.

In hierdie stryd is die maatskaplike werkers van Rata besig om te veg vir die kinders se veiligheid,
beskerming en geluk. Dis ’n moeilike stryd, want die geld en hulpbronne is min, maar dit is en bly die
moeite werd. Al wat ons as maatskaplike werkers vra, is die vermoë om te kan voortgaan om vir elkeen
van hierdie kinders te veg. Dit is so deel van ons missie en visie – om mense te lei van gebrokenheid
tot heelheid!

Elkeen kan op sy of haar manier vir hierdie saak veg, deur ’n bydrae te maak tot die spesiale
deurkollekte van 6 Junie 2021 wat vir Kinderbeskerming geoormerk is. Dit loop ook saam met
Nasionale Kinderbeskermingsweek, omdat hierdie kinders slegs een week per jaar kry om hul leed en
behoeftes te kan uitbasuin, selfs al gebeur die slegte goed deurlopend. Jý kan ook ’n verskil maak!

*Skuilname*** 30 Mei tot 6 Junie is Nasionale Kinderbeskermingsweek

Dr Charmaine Fourie
Programbestuurder, Rata Maatskaplike Dienste

[/vc_column_text][/vc_column][/vc_row]