Rata > Projects  > Ter afsluiting

Ter afsluiting

‘n Koerantberig deur Sonja Smit van ons Secunda Kantoor oor Voedselnood

Dit is ‘n yskoue dag met ‘n ligte reënbui. Ek is in my kantoor besig om hofverslae te skryf toe die voordeurklokkie
lui. Ek staan op en druk die knoppie vir die deur om oop te gaan. Voor ek kon omdraai omhels ‘n klein seuntjie
my, en kyk liefdevol op na my: “Tannie, tannie is mos die tannie wat ons gaan help. Tannie ons het niks om te eet
nie.” Ek kyk na die gesiggie. Liefdevol, gelukkig maar vol honger, al die tekens van armoede is daar. Tydens die
onderhoud met mamma en pappa, hoor ek dieselfde storie wat soveel van ons kliënte vertel: Pappa werk, maar
die salaris is net-net genoeg om huur te betaal. Daar is nie genoeg geld oor vir kos, klere, water en elektrisiteit
nie. En dit is die realiteit van baie van ons mense. Alhoewel pappa of mamma of soms albei werk, kry ons mense
eenvoudig nie genoeg om kos op die tafel te sit nie. Werk is skaars en mense verloor daagliks hulle werk. Ons
kinders ly honger. Ons as maatskaplike werkers sien dit daagliks. Armoede neem toe, so ook hongersnood. Geen
maatskaplike werker wil ‘n kind of persoon in nood wegwys nie. Dit is bitter hartseer as ons mense nie kan help
nie. Ons het baie pensionarisse wat afhanklink is van die staatspension elke maand. Dit is maar R1 600. Dit is nie
genoeg om van te oorleef nie. Hulle kan skaars huur betaal, wat nog te sê van kos koop. Dikwels het hulle kinders
geimmigreer of weggetrek en hulle agtergelaat. Ons wil graag vir hulle ook kos op die tafel sit. Wanneer mense
om hulp kom vra, doen ons ‘n volledige ondersoek. Ons maak seker daar is nie dwelm-of drankmisbruik nie en
ons doen huisbesoeke om die adresse te bevestig. Ons stap ‘n pad saam met hierdie mense en ons help hulle om
aan langtermyn oplossings te dink. Maar die onmiddellike honger wil ons graag aanspreek deur ‘n kospakkie te
gee.

Ons probeer om die volgende items in ‘n kospakkie te sit:

    • Blikkieskos, vrugte en vleis
    • Mieliemeel
    • Rys en pasta
    • Boksies soppoeier (cup-a-soup)
    • Suiker en sout

Badgoed is ook dikwels ‘n luuskheid en items soos seep, tandepasta, sjampoe is ook altyd welkom.
– Sonja Smit, Secunda Kantoor

Andries Pretorius
No Comments

Sorry, the comment form is closed at this time.